Een van die vele aspekte wat Sterreliggieland besonders en uniek maak, is die muurskildery by ons speelgrond. Op die oog af mag dit dalk lyk na bloot mooi Bybelprentjies, maar die muur is in der waarheid een aaneenlopende skildery wat gebeure uit die Woord in volgorde uitbeeld. Van die skepping, tot Josef, die val van Jerigo se mure, die geboorte van Jesus, Sy wonderwerke, die opstanding en die nuwe hemel en aarde.
Die muur is die handewerk van die professionele skilder, Esnath (Natty) Makombe en die konsep en uitvoering van dié projek het met baie beraadslaging en gebed gepaard gegaan. Dit het vier maande geneem om te voltooi en ons is besonders trots op die eindresultaat!
Ons visie was dat die kinders van ons skool sal grootword met die verlossingsverhaal van Jesus Christus in die agtergrond waar hulle speel, klim en klouter. En ook waar hulle leer deel, huil oor skraapmerke en soms ‘n minder goeie dag het. Ons inkorporeer ook die pragtige beelde in ons lesse en neem dikwels die kinders buitentoe om die prente te gaan bewonder wanneer ons daaroor geleer het in die klassie of sommer net wanneer ons saam bid.
Mag elkeen eendag terugdink aan die kleurvolle beelde en die verhale daaragter onthou.