In Matteus 5:16 lees ons dat dissipels van Jesus hul lig moet laat skyn. Wanneer ander ons goeie werke sien, word ons Vader in die hemel verheerlik!
Welkom by
Sterreliggieland
Ons fondasie is Christus en die Bybel.
Ons bied 'n gemaklike omgewing.
Ons fokus op motoriese ontwikkeling.
Ons leer deur middel van speel.
Ons bied Afrikaanse onderrig.
Wie is ons?
Sterreliggieland is ‘n Christengesentreerde Kleuterskool wat in 1989 gestig is tot eer van God en tot diens van die gemeenskap. Ons neem babas vanaf 3 maande tot en met kinders in Graad R.
Opvoeding en onderwys geskied volgens Christelike waardes en Bybelse beginsels met die Woord as basis en Jesus Christus as hoeksteen en is vir alle ouderdomme vanaf 3 maande tot Gr. R.
ONS SKOOL IS WKOD-GEREGISTREERD EN VOLG TANS NKABV (NASIONALE KURRIKULUM- EN ASSESERINGSBELEIDSVERKLARING, ALGEMEEN BEKEND AS ‘CAPS’) IN GRAAD R EN VOOR GRAAD R.
Die kind sal gelei word tot skoolgereedheid en sal die geleentheid gebied word om waar te neem, te ontdek, te eksperimenteer en vaardighede aan te leer sodat hy sy volle potensiaal in Jesus Christus kan bereik en sy plek in die samelewing kan volstaan. Sosiale en emosionele ontwikkeling is van kardinale belang.
Wat glo ons?
By Sterreliggieland wil ons lig wees vir ‘n donker wêreld. Ons wil God se lig en liefde met voorskoolse kinders en hul gesinne deel. En ons glo dat die kinders ook God se lig sal laat skyn sodat meer en meer mense ons Vader leer ken en verheerlik.
Dis vir ons belangrik dat elke kind nie net fisies en kognitief ontwikkel nie, maar ook emosioneel en geestelik groei. In God se lig en liefde is daar vir elke kindjie ‘n plek van geborgenheid. Daarom wil ons ook vir elke kind ‘n veilige tuiste weg van die huis af skep en vir ouers die gerusstelling bied dat hul kosbaarste skatte veilig en gelukkig is.
1 JOHANNES 1:5 NLV
Dit is dan die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle meedeel: God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie.
Ons kurrikulum
Ons klassies
Het jy geweet? Elkeen van ons klassies is vernoem na ‘n skeppingsdag! Op die eerste dag het God die lig geskep (Liggieklas), die tweede dag die hemel (Wolkieklas), die derde dag droë grond (Boompieklas), die vierde dag die son, maan en sterre (Sonnetjieklas), die vyfde dag die seediere en voëls (Voëltjieklas) en op die sesde dag die mens en landdiere (Diertjieklas). Op die sewende dag het Hy gerus – en alhoewel ons baie hard werk in die personeelkamer, is “rus” die tema van ons spasie waar die opvoeders net weer kan kom herlaai.